Op die prikkel omslag van dié enkelsnit Sunny Day staan vier kinders voor ‘n oop deur. Voor die deur is daar ‘n dogtertjie en ‘n seuntjie. Die dogtertjie het sproetjies oor haar neusbrug en die seuntjie het so windmakerige Tin-Tin-kuifie. Agter staan nog ‘n seuntjie en dogtertjie; ballonne in hul hande.

Enige ouer sal die kleingoed sommer wil opvreet; hulle is nie net te oulik vir woorde nie, maar het ook stemmetjies wat die hemelse engele sal laat jubel. Boonop kan elke kleinding, wie se ouderdom wissel tussen 9 en 11 ‘n instrument bespeel – van die elektriese kitaar tot by die dromme…

Dit is die 4 Eva Young Band, wat dié jongste groep in die land (en dalk ook in die wêreld is). Ja, en Johan Snr het die Guinness World Book of Records genader en hulle aansoek is goedgekeur.

Die jongklomp se debuutenkelsnit Sunny Day is pas op radiostasies landswyd vrygestel en die reaksie is so positief soos ‘n warm sonnetjie wat op ‘n wintersdag skyn. Dié liedjie sal enige swaarmoedige persoon (Covid-19 se Moses) se dag ophelder en laat uitsien na dit wat voorlê. Die musiek video volg vir kort op die snit se hakke en gaan resoneer met gehore oud en jonk.

Die vier kinders, wat almal in die Vaaldriehoek bly, is soos boeties en sussies vir mekaar en kom baie goed oor die weg,” sê pa Reinhard Herbst, wat ook onlangs saam met sy vrou Karin die groep RNK gestig het. En natuurlik het Reuben (10) sy ouers se musiektalent geërf, want hy slaan die baskitaar asof hy ‘n wafferse Willim Welsyn is.

Die res van die groep bestaan uit Caitie Rock (11) en Johan van Rooyen Jnr. (11), wat beide die voorsangers van die groep is. Johan speel ook kitaar. Zandri Bezuidenhout (9), wat al amper net so goed soos ons eie Ghapi is, is die groep se drommer en dan Reuben, wat die baskitaar speel.

Zandri se pa is die bekende musiekvervaardiger en liedjieskrywer, Drickus Bezuidenhout en dit is ook hy wat Sunny Day by sy ateljee Mergemusiek geskryf en opgeneem het.

Vertel Johan Snr: “Johan en Catie het drie jaar gelede aan ‘n sangkompetisie deelgeneem en hulle het beide deurgedring tot die finaal. Hulle wou graag ‘n duet saam opneem en het vir Drickus genader om hulle te help, en dáár het hulle vir Zandri ontmoet.

Drickus is weer vriende met Reinhard en Reuben se talent met die kitaar het perfek by die groep gepas. 4 Eva Young Band is in Februarie vanjaar gebore.

Die naam kan eintlik op twee maniere geïnterpreteer word; daar is darem twee Eva’tjies wat die groep aan die gang hou… maar Drickus sê laggend dat Caitie se ma, Theresa, een aand die naam grappenderwys voorgestel het. “Die kinders het besluit dat die naam iets met ‘n vier te doen moes hê en omdat hulle nog so jonk is, was die naam toe heel gepas.

Luister na Sunny Day hier:

Sunny Day is ‘n moderne pop-gospel-goedvoelliedjie wat wel ‘n Christelike aanslag het. Dit kom duidelik in die lirieke te vore: “…we are all children of the King of Kings…”

Maar Reinhard sê dat die groep hulself nie as gospelgroep gaan bemark nie. “Die liedjie moet net ’n positiewe uitwerking op jonk en oud hê,” sê hy “Die kinders is baie lief vir pop- en rockmusiek en wil veral op die jeug fokus.”

Hulle eerste enkelsnit is wel in Engels, maar hulle is besig om aan twee oorspronklike liedjies te werk wat later vanjaar vrygestel gaan word.

Daar word nog groot dinge vir dié vier kinders voorspel, maar hulle ouers gaan hulle kindervoetjies plat-op-die-aarde hou sodat hulle nie dieselfde pad as vele ander kindersterre stap nie. “Ons hou gereeld met die kinders vergadering en praat met hulle oor die voor- en nadele van die vermaakbedryf. Hulle het respek vir mekaar en neem mekaar altyd in ag. Ons verduidelik ook aan hulle dat hul ‘n voorbeeld vir jonger kinders moet wees en dat hulle altyd nederig en dankbaar moet bly,” sê Drickus wat sommer ook deur die ouers as die orkes se bestuurder genomineer is.

En wie is die stoutste kind in die groep? Beslis Johan, want hy vang letterlik slange…

Sunnyday is beskikbaar op alle digitale platforms.

Sosiale Media: Facebook

 

Leave a Reply

error: Content is protected !!